top of page
Search

MY HART IS ’N SPOOKDORP (17/8/20)

Writer's picture: WendyWendy

Dit kan lelik lol as jou maat van 45 jaar nie langs jou sy is nie. “The two will become one flesh,” volgens die Bybel is ’n wit waarheid!


Gedurende Junie 2015 het ek my dogter gehelp om in haar nuwe woonplek in te trek. Ek besluit toe om sommer ’n maand lank in Kaapstad te kuier - sonder manlief! Was dít nou ’n groot fout! Toe hy die dag wegry het ek geweet, hier kom twak! En die lewe het mos nie ’n UnDo-knoppie nie! Ek was gedoem tot alleenheid.


Ek het die dae volgeprop met huistakies. Die eensaamheid het my saans gevang wanneer die stad se liggies aangeknipper het. Sonder televisie in die woonstel kon ek myself hoor asemhaal. Dogterkind was bedrywig met eksamenvraestelle in haar kamer. In haar ore was oorfone gedruk waardeur sy musiek via haar stootrekenaar geluister het. Ek was op my eie met ’n ongeskik-klein radio’tjie wat méér gekraak het as my artritis heupe en knieë.


Romeo het saans om agtuur gebel. Sò lank het hy gesels en sò lugtyd het hy gekoop dat ek bekommerd geraak het oor ons banksake. WhatsApp was toe nog iets op die verre horison!

Ons het gesels oor die telefoondae vòòr ons troue toe hy as ambagsman weggewerk het. Die afsprake was Donderdae- en Sondae om 7h30nm. My redding was die rooi telefoonhokkie in die portaal by die Karoo Hotel wat slegs ’n katspoegie weg van ons huis was. Die foonhokkie was baiemaal beset wanneer ek daar aangekom het. Wanneer daai terrieng-trieng oplaas gekom het, was ek lighoofdig gelukkig. Ek kon hoor hoe hy aan die anderkant die munstukke in aller yl met ’n girtsgeluid ingooi. Dit het toé al soos begrafnis gevoel wanneer daai moerige meisietjie by die sentrale my geluk kortgeknip het met haar, “Een minuut…!” en ons totsiens moes sê.

Vanaf dag een as grasweduwee het my hart verander. Die stof het my hartkamers gevul, die dak het ingegee, die spinnekoppe het ywering hul webbe gespin en die gekreun en gekraak van skroewe en skarniere was oorverdowend. My hart was ’n totale spookdorp soos die baie wat ek jonktyd in die John Wayne Western Movies gesien het.


En die dramaturg in my begin vorm saans prentjies van hoe my Romeo op sy perd by my spookdorp gaan inry om my te kom red. Hy sal sy cowboy-hoed lig, die sweet met sy nekdoek afvee en met stewel en spoor nader stap na die verweerde huis. Hy sal na my begin roep! Die leë huis sal my naam eggo!


Met ’n lang romp vol skeure en ’n stofvaal gesig waarop die trane hul merke soos riviere gelaat het, sal ek antwoord. Met ’n droë keel van opgewondenheid sal ek ons annerdagse favourite liedjie sing terwyl ek in stadige aksie nader hardloop - Cliff Richard se “Miss you nights”


“I’ve had many times, I can tell you …..but these miss you nights…they’re the longest..!”

Maar dan het die werklikheid weer ingeskop en was dit maar weer ek en die krakende radio’tjie.

En wragtie, so asof die kosmos bewus was van my verlange, stel die flambojante sanger, Adam Lambert daai maand sy liedjie, Ghost Town bekend wat soos ’n bevestiging van my hartseer was.


En ek sing saam.

En ek skryf.


En ek voel beter.

En die skemeraand toe hy nà 30dae aan daai Kaapstadse woonsteldeur klop, was my romp nie stukkend nie, my keel nie droog nie en my hartkamers afgestof - àl vier van hulle.


En tussendeur die drukkies en die vertellings en die baie het-jy-my-ook-gemis kon ek laatnag darem die Cliff Richard-liedjie met so ’n uitlokkende heesstem inkry.


Dogterkind het niks gehoor nie. Sy’t weer haar oorfone ingehad.


My hart is ’n spookdorp

Elke hoek vol dorhout en splinter

My menswees verdwaal in die poeiersand-getrapte starten

waar spinnekopwebbe met dou-diamante glinster


Als ruik na ou asems

en vergete gesprekke

Die lug vol verlange en smagting


Kreungeluide van geroeste hekke

Muwwe winde wat deur my woestynhart sing


15 views1 comment

Recent Posts

See All

1 Comment


fortuin.bernard
Aug 23, 2020

Ek onthou daai telefoonhokkie ini Karoo hotel.

Woensdae aande om 8uur was my tiekiebox afspraak met Mary

Heimweë Wendles

💐💐💐💐💐

Like
Post: Blog2_Post

Subscribe Form

Thanks for submitting!

©2020 by Wendy Anthonie. Proudly created with Wix.com

bottom of page