top of page
Search

MEERVOUD: EPISODE VYF

Writer's picture: WendyWendy

(Nie vir sensitiewe lesers nie!)


Dr. Shirley Van der Linde sukkel met die sleutel in die deur. Sy kan nie fokus nie. Dalk is dit haar gretigheid om uit Daniël se kamer weg te kom wat haar onbeholpe maak.

Sy is goed vertroud met angs, depressie en Multiple Personality Disorder òf D.I.D. (Dissociative Identity Disorder) soos dit herdoop is. Wat sy vandag aanskou het was die ergste wat sy al beleef het sedert sy Daniël 3jaar gelede begin behandel het.

Met haar rug na hom gekeer voel sy hoe haar nekhare begin rys. Iets is nie pluis nie. In stadige aksie draai Shirley Van der Linde om. Daniël staan met die een hand op sy heup. Die ander hand is in die lug met 'n dooie sigaretstompie tussen sy vingers.

En toe kom die hel aarde toe! Sy hoor die hoë stem van Doreen Jacobs.

"Choices! Choices! Kyk waa's ek ve'dag oor my eie choices! Doreen vannie Bontehiewel ennie ryk miste' Oliver vannie Vrystaat! University vibes. Ga!"

"Sou rosy cheeks Johan my aangekyk het as my vel navyblue was? Nope! Ma' ek was mos 'n mooi Kaapse meid met 'n Buttermilk skin, al moet ek self soe sê! En toe? Ek choose toe om ja te sê virrie wit outjie mettie baie pond. My virginity verruil vi' lekke' milkshakes, drives 'round the peninsula en Belgian chocolates oppie steps byrie Rhodes Memorial. Saans het ek nee gesê vi' mamma Margie se soet tee en jam sandwiches - ek was dik gevriet vannie mahala-lunches byrie university."

"En toe maak ek nòg 'n choice - ommie baby te hou! All en all, kak choices, to say the least!"

Daniêl druk met sy wysvinger amper teen Shirley se voorkop.

"Dêniel Oliver! You choose the circumstances, you choose the consequences. Blah...blah...blah..! Ek moer djou somme' wee' omlat my ma-hulle en djou pa se grênd mense ons ge-sidestep het. Skelm papgeld in 'n envelope ytie Vrystaat kannie opmaak virrie hurt!"

Daniël sak op sy knieë en begin huil. Dis die rou snikke van 'n vrou. Shirley staan vasgegom met haar rug teen die deur.

Klein Daniël:"Eina mammie, eina!"

Doreen:"Sharrap! Net daarom gat ek djou wee' innie biesemkas infok!"

Klein Daniël:"Moenie mammie! Dis donker, die stof, die miere, die gif!"

Kevin:"Waa' val djy yt mit mamma!"

Klein Daniël:"Asseblieftog mamma! Eina, mammie! Mamma!"

Kevin:"Guh, mamma! Ag, pulleez! Djou mamma is lankal padop! Dêniel was tè veel van 'n slapgat om die kussing oor ha' gevriet te druk. Ons twie het gestry, ma' ek het hom gebeat. Dit was easy peazy om daai oxygen tank se kraantjie toe te draai!"

"Sjym, ha' longe het platgeval! Emphysema van allie roek!" het ammal gesê.

Dr. Shirley kan nie glo wat sy hoor nie. Daniël, Kevin... wie ookal, het Doreen vermoor! Sy sluk swaar. Haar hart klop in haar keel. Doreen borduur voort.

"Waa' was djou mammie toe djy 'n halfnaaitjie op skool genoem was? Waa' was djou mamma toe die neighbours van djou as 'n hoerdop gepraat het?

Waa' was djou mamma toe die envelopes met die papgeld nie mee' gekom hettie, huh! Djou mamma, het anne'dag meere oor Hector Petersen gehuil as oor ha' eie laaitie wattie melk hettie."

"Moffie! Hoor djy my Dêniel? Ag, jirre het djy al ooit gehoor wat ek sê? Djy't altyd net djou kop geskud en my nooit 'n gap gegee nie. Djy't liewe die volume knoppie van RSG oopgedraai ommie my stem te hoor'ie. Hoe djy soe na daai polskou, ritmiese suicide music kon lyste' is my ever end! Dit was of die tjello en klavier evil thoughts vanaf die music system af vi' djou gefluister het!"

Doreen, klein Daniël en Kevin was uitgewoed. Dr. Shirley het gekyk hoe Daniël sy kop moeg laat sak en met leë oë voor hom uitstaar. Sy was dankbaar toe die sleutel uiteindelik in die slot gedraai het.

Dit was asof Daniël leeggetap was. Hy het wonderbaarlik herstel. Soggens het hy saam met die res van die inwoners in die Tokaibos gaan draf, gehelp met tuinwerk, en weer smiddae rustig op die stoep met sy boeke gesit. Dr. Van der Linde het aanbeveel dat hy vir 'n proeftydperk huistoe kon gaan. Oor Doreen se dood en die werklike waaarheid, het sy bly swyg.

Daniël was verheug oor die vooruitsig om huistoe te gaan. Die huurders van Bonteheuwellaan 25 is lank voor die tyd in kennis gestel van sy ontslag.

'n Soort vrede het teruggekeer na Bonteheuwellaan. Daniël het naskoolse Wiskunde klasse aangebied vir die leerders van sy Alma Mater. Ant Girlie het sy wasgoed gewas, koekies aangedra en vir hom 'n skelm bord kos omgestuur met elke catering bestelling wat sy gekry het.

Die enigste ding waaroor klein en groot hul wenkbroue gelig het, was die kinderlike uitgelatenheid van Daniël wanneer hy bedags tot laatskemer saam met die seuns in die straat gespeel het.

2016 het uitgeloop.

Die klein skroefies van die naamplaat, DR. Z. MKHIZE (Political Science) op die deur is stram. "I am going to miss seeing this every day!" Zolani Mkhize vryf die koper naamplaat blink met die punt van sy baadjie. Die skrilgeluid van die telefoon vanuit sy kantoor ruk hom tot die hede.

"Goeiedag! Praat ek met Doktor Mkhize? My naam is Pieter Huysman. Ek bel van die prokureursfirma, Huysman en Vennote. Kan ek 'n oomblik van u tyd steel, asseblief?"

Doreen en Zolani het annerdag lekker gelag oor die taalkwessie. Hy kon niks Afrikaans besig nie en kon oopmond na haar Kaapse Afrikaans luister. Danksy haar, taallesse, kon Zolani hom uit benoude situasies soos nou red!"

"Dis, korrek, meneer Huysman. My naam is Zolani Mkhize. Hoe kan ek u help?"

Die dag het opslag 'n grysgrou baadjie aangetrek. Sy kantoor by UCT het altyd die oggendson gevang. Nou was daar niks.

"Thank you for your call Mister Huysman. Baie dankie!"

Zolani se hart was in winter gebaai.



(Word vervolg - slot episode)



18 views0 comments

Recent Posts

See All

Comentarios


Post: Blog2_Post

Subscribe Form

Thanks for submitting!

©2020 by Wendy Anthonie. Proudly created with Wix.com

bottom of page