top of page
Search

MEERVOUD: EPISODE VIER

Writer's picture: WendyWendy

(Nie vir sensitiewe lesers nie!)

Die begrafnisondernemer was besig om die eerste skroef van die kis vas te draai toe Daniël hom met 'n gilstem keer. "Wag, wag......!"

Hy het die deksel van sy ma se kis afgeskuif en haar gunsteling langspeelplaat, Mister Lonely, op haar bors gesit. Dit was egter nie die plaat wat gepla het nie. Die Egiptenare het immers van toeka af allerhande besittings saam met hul geliefdes begrawe.

Dit was Daniël se stem wat die handjievol kerkmense in die beknopte voorkamer na hul asems laat snak het. Almal se kakebene het oopgeval soos 'n yskas met 'n pap rek. Antie Girlie van langsaan het gefluister:"Hoeeee... jissie, hoe praat Dêniel da' nou!" Ant Florence, die kerk se voorbidder het opgevlieg, haar hand omhoog gehou en geskree:"Ek pleit die Bloed van Jissus! Wyk satang!"

Daniël was salig onbewus van die konsternasie wat hy veroorsaak het. Hy het volgehou om met die stem van 'n baie klein lispelende seuntjie met sy dooie ma te praat. Hy het haar gesig gestreel en 'n menigte soentjies op haar gesig geplant. "Mammie isthie nou mee' lonely nie!!" Hy het weggedraai en in sy slaapkamer verdwyn. In hul haas om weg te kom het prediker en kudde vergeet om verder te sing en te bid!

Inwoners het wye draaie rondom Daniël en Bonteheuwellaan 25 begin loop.

Doreen Jacobs het 'n week voor haar seun se gradeplegtigheid gesterf. "Doctor Dêniel Oliver, klink'ie te bêd'ie, nuh?!" het sy uitasem gespot toe hy haar oor die plegtigheid ingelig het. Helaas, die belangrikste dag in sy loopbaan is toe verongeluk deur die lewe se aweregse tydsberekening. Hy was kwaad en sonder emosie toe hy die podium in die oorvol ouditorium by UWK betree het.

Behalwe Zolani Mkhize was daar niemand anders wat in sy vreugde gedeel het nie, of sò het hy gedink. Die staccato handeklap het sy ore bereik terwyl die vise-kanselier die band om sy skouers gedrapeer hetin. Daar was iemand langs Zolani - 'n wit man wat saam hande geklap het.

"That was your father, Johan Olivier, Daniël! I informed him about your graduation, but never in a million years did I believe that he would pitch!"

So skielik soos Johan Olivier verskyn het, sò skielik het hy verdwyn. Weg!

Doktor Daniël Olivier het die aand sy doktorsgraad gevier met koue melk en cup cakes wat Antie Girlie vir hom omgebring het. Sielsalig alleen. Met die boks miergif in sy een hand het hy koekkrummels op die kombuisvloer uitgestrooi en gewag vir die miere om hul verskyning te maak. Die oerlag wat laatnag tot in die straat deurgesypel het, het rondlopers die horries gegee.

Dr. Shirley Van der Linde is die voltydse Sielkundige by Eikenhout. Sy en Daniël het 'n lekker verhouding. Hy vertrou haar.

"Halloooo! Môre Daniël!" Sy sien niemand en begin roep weer. Daniël se lang bene steek onder die bed uit. Dr. Shirley buig af en lig die deken op.

"Sjjjjjt! Ek kruip weg vir Kevin!" sê Daniël met sy vinger op sy lippe.

"Daniël! Daniël Olivier! Kom uit onder die bed. Kom nou!" en sy klap haar hande. "Kom, kom sit hier by my! Fokus! Hoe gaan dit met jou? Dit is mos Daniël met wie ek nou praat, reg?"

Daniël skud sy kop, glimlag en vou sy hande in sy skoot.

"Môre, Dr. Shirley! Ja, dis Daniël wat praat. Hoe gaan dit met Dr.?"

"Dit gaan goed met my, Daniël. Ek was bietjie met verlof, maar kon nie wag om te kom inloer nie. Sê my Daniël, wie is Kevin? Ek dink nie ek het hom al ontmoet nie."

Wanneer Daniël sy kop skud en dit na die eenkant toe val, weet Dr. Van der Linde dat een van sy alters na vore gaan kom. Sy's al gewoond daaraan. Dis egter 'n ander stem wat nou deurkom. Sy lig haar wenkbroue amper tot teenaan haar haarlyn.

"Sy's tè busy body! Too many questions! She's got to go! Wit biene!"

"Nee, Kevin, los haar uit!"

Dr. Van der Linde beskou die tweespraak in uiterse skok. Sy skree kliphard.

"Daniël! Fokus, Daniël fokus! As jy gesond wil raak sal jy sterk moet staan teen hierdie Kevin èn die ander stemme! Moenie oopmaak vir hulle nie - nie eers vir klein Daniël nie.

"Djou moffie! Ek't al gesê ons moet ha' ve'dhala! Ek wiet hoe!"

"Bly stil, Kevin! Bly stil!"

Daniël se kop wieg heen-en-weer. Dr. Van der Linde plaas haar hand op syne.

"Jy's 'n goeie mens, Daniël. Moet nie ingee nie. Jy's slim - Einsteen se gelyke, man!"

Kevin, wat duidelik die sterkste persona is, antwoord. "Einstein! Einstein? Well, Einstein hettie heeldag op sy gat gesit en skryf'ie! En by re way - Einstein het op sy oudag nog klompie hare gehêt. Dêniel het fokkol - seke' van allie kak gedagtes. Daar'sie ee's plek vi' guts in sy brein nie. Tè min space, nes hier'ie flippen kamer. Hy's tog sooo tevrede mit sy gefokte breinselle!"

"Bly stil, Kevin! Bly stil, Kevin! Blame it on Apartheid!"

Dr. Van der Linde stap nader om vir hom 'n drukkie te gee, maar sy retireer skielik. Daniël stoot haar weg. In sy seuntjiestem begin hy huil. "Ek hettie 'n pa nie....en...en..ek hettie 'n ma nie. Mammie slat my net of sy lê net daar - heeldag!"

Kevin:"Jip, masekind, djy's wiesgelaat soes allie kinnes wie se parentals 'n lange gegooi het. Nou beg djy vi' liefde nessie kinnes voor Wimpy. Daai snot nieste wat net wil gom koep mit elke 20cents wat hulle kry. Fokof, djulle! Djy's ôk ge-delete, Dêniel vannie Bontehiewel!"

Dr. Van der Linde is tot in haar wese gesteurd deur hierdie nare Kevin. Sy slaan haar leêr toe en staan saggies op.

Daniêl is weer sy eie self, druk die dokter terug op haar stoel en antwoord in sy rustige, intelligente stem.

"Ai, Dr. Shirley, Hoe swart is die mens se hart nie, nê? Hoe blind is ons siele nie! Vir elkeen van ons, gedoop in NG, verlos in AGS òf wedergebore in Agape! Die keuses in die lewe is net te veel! Hoe moet ek kies tussen die stemme? Hoe moet ek kies tussen Mohammed Ali, Liewe Jesus, Ghandi en Desmond Tutu? Almal geliefd, maar ek mag net een kies, reg?"

"Ek kom gou weer, Daniël. Bly gefokus!"

Dr. Van der Linde het skaars aan die deurknop geraak of sy voel hoe die hare in haar nek orent staan.....

(Word vervolg)




28 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Post: Blog2_Post

Subscribe Form

Thanks for submitting!

©2020 by Wendy Anthonie. Proudly created with Wix.com

bottom of page