top of page
Search

MEERVOUD: EPISODE TWEE

Writer's picture: WendyWendy

(Nie vir sensitiewe lesers nie)

Doreen was 'n skrander leerling. Arcadia Senior Sekondêre Skool is drie minute se loop vanaf Bonteheuwellaan 25. Sy het tot vervelens toe akademies presteer. Peter en Margie Jacobs het hard en lank gebid dat hul dogter bokant die aweregse lewe in Bonteheuwel sal uitstyg. Doreen se neus was ewig in boeke - Engelse boeke! "One day, she's going to major in English", het haar ma onder die kerkmense gespog met die geloof van 'n properse Sara!

Die deursnee student het onderwys by die Hewat Kollege in die voorstad, Crawford gaan swot. Die Jacobs-egpaar het hoër gemik.

"We've decided to pay for all your books and tuition studies at UCT", het die Joodse tandarts van Wynberg een middag gesê. "On one condition, Doreen - you have to prove to us that you want this degree in English Literature! We want good results, okay!"

Doreen was kwaad omdat haar ma by haar baas gebedel het, maar dalk was dit pay back time. Margie Jacobs het toe alreeds vyftien jaar lank vir Mark Singer en sy gesin gewerk. Dit was altyd net die Singers voor en die Singers agter! Sy het haar grootwordjare onthou wat mank gegaan het aan aandag, en wel oor haar awesige ouers. Peter Jacobs was heeldag by sy kerk en Margie was heeldag by die ryk mense aan die anderkant van die Kaapse Vlakte.

Die onthou steek graag vas by die prentjie van haar ma wat soggens grouvroeg moes opstaan om die eerste Golden Arrow bus te kry. Wintertye was sy toegedraai in plastiek teen die Kaapse winterreëns - haastig oppad om ontbyt vir 'n ander gesin te gaan maak. Sy moes haar eie pap maak en haar eie hare vleg.

Naweke was daar 'n verposing, maar niemand het ooit uitgevra oor wat in haar hart aangegaan het nie. Nie 'n drukkie of 'n skouerklop nie, want òf hulle was nie tuis nie óf hulle was te moeg. Al wat hulle wou weet was:"Is djou skoolwerk reg? Is jy gereed vir die eksamen!"

Kwartaal na kwartaal, tot in haar derde jaar het Doreen uitgeblink. Mark Singer se glimlag was so breed en wyd soos die Here se genade.

Maar toe gebeur Johan Olivier.

Toe hulle die middag klaar was in die damestoilet by die universiteit en hulle gekreukel en natgesweet na buite strompel, het Johan se wit pelle in hul spore vasgesteek. Hulle wange was rosig van die goedkoop bokswyn en skelm dagga. Met 'n skewe glimlag en 'n lam oogknip, het die drie van hulle gegil: "Johan! Seker nie 'n meid nie!"

Een van hulle het met sy hand in sy heup gedruk soos 'n vrou en spottend gesê:"Whites only, darling! White and not brown bread, sweetie!"

Doreen se swaar Conscise English Dictionary het die koggelaar skram getref en met fladderende bladsye op die klipstoep geland.

Daniël spring weer op en skop 'n duik in die draad vullismandjie. Dis Doreen wat weer voorvat.

"En djou pa defend my nie ee's teen daai dôners nie!"

"En toe gat koep hy fokken seep na ek djou gekry het. Ek moes my studies los, want daai Jood het die geldkraantjie toegedraai en Peter Jacobs, die kerkman wou nie hê die mense moet weet sy kind is pregnant nie. Djy was baie mooi en ek wou djou Felix doep. Dit betieken happy fault in Latin!

Ek wou djou eintlik'ie gehêrrit'ie, ma' daa' wassie nog van legal abortions daai tyd'ie. Djou supposed-to-be-pa was mèèr worried oor sy eie studies en wat sy upstairs family gat sê vannie mixed baby!"

Doreen het weliswaar alle moontlike paadjies gevolg om van die baba ontslae te raak. Sy't galbitter konkoksies van snaakse kruie gedrink, warm brandewyn gesluk en op een stadium wydsbeen bo-oor 'n pot kokende uie gesit. Iemand het voorgestel dat sy op-en-af moet spring om die fetus los te skud. Doreen se bene het liewer mooier en stewiger geword. Die baba het om lewe en dood bly vasklou.

Op 16 Junie 1976 het haar pa haar wakker gemaak. "Wat gat aan hie' buite! Kô kyk'ie klomp poelies Kaspers innie straat. Doreen was bewus van die woelinge in die land, veral in Soweto. Sy het heeldag voor die radio gelê en was saam hartseer toe die nuus kom dat die twaalfjarige Hector Petersen doodgeskiet is.

Teen vaalskemer, net toe haar ma by die deur inkom, het Doreen 'n kreet gegee. Margie Jacobs het na die plas water op die linoleum vloerbedekking in die kombuis gekyk en haar werksak laat val. "Daai bybie van djou wil nou kom, Doreen!"

Laatnag was daar 'n sagte klop aan Doreen se kamervenster. Die manspersoon met die wolmus was onherkenbaar. Die straatlig wat in 'n onnatuurlike mistigheid gehul was van die dag se baie traangas het haar sig belemmer, maar toe merk sy Zolani Mkhize se swart Mazda Capella Coupe aan die oorkant van die straat. Sy het sukkel-sukkel opgestaan en Johan binnegelaat. Haar oud-universiteitspel het hom laat weet van die geboorte en hom met sy motor gebring.

Die mooi baba in die lemmietjiegroen handgebreide truitjie het Johan se hart onkant gevang. Hy het 'n koevert vol geldnote in Doreen se hand gedruk. "Noem hom Danië Olivier, Doreen - na my pa!"

Doreen was tevrede oor die naam. Haar ouers nie. Geld het harder gepraat as 'n naam op 'n geboortesertifikaat. Nie sy òf haar ouers het al soveel geld op een slag gesien nie. Sy het aan Shakespeare se "What's in a name? That which we call a rose by any other name would smell as sweet...." Om dit aan haar ouers te verduidelik sou tydmors wees.

Daniël sit op sy knieë en druk met sy vinger teen die stoel se rugleuning, asof teen iemand se borskas!

"Djy sou my laaitie uitsort, èn laat leer èn laat erf! Why? Why, huh? Because hy was beautiful, en wit, en het blou oë gehêt!"

Maar Johan Olivier het weggebly. Hy het nou en dan opgedaag wanneer die huismense en die bure reeds geslaap het anders sou Doreen moes verduidelik van die wit man in die Ford Courier-bakkie en dit met 'n Kroonstad-registrasienommer in die hartjie van Bonteheuwel.

Daniël begin huil.

"En djy sou hom kô haal en ek sou nie mee' 'n laaitie gehêrrit' ie! En dit als oor hy mooi was. Sieke' gedink dit gat 'n kroesgat wies!"

Skielik vul 'n waansinnige gelag die lang gang. Daniël het van die vloer af opgestaan, hard gesnuif en begin lag.

"Hoeeee, as dou rykgat-oupa moes wiet djy't ampe' 'n scientist uitgedraai, sal hy vandag in installments in sy graf omdraai!"

Die manlike verpleêr aan diens het die luik in die kamerdeur saggies oopgeskuif. Daniël het met sy rug na die deur toe gesit. Hy het sy kop vasgehou en verward van die een na die anderkant geswaai soos 'n pendulum. Wat Denver Isaacs volgende aanskou het, het hom koud gelaat. Hy't na een van sy kollegas gewink. "Kom check hier!" het hy saggies geroep.

Die personeel was al vertroud met Daniël se drie stemme, maar daar was nou vier.

Danië skree:"Wat? Wat? E = mc2! E = mc2!

Doreen gil: "Hou djou bek of ek slat hom toe!"

Klein Daniël huil:"Eina, mammie! Ek willie wee' besemkas toe nie. Dis donker! Die miere! Die gif!"

En toe die oer stem:"Maak die fokken teef sat, man!"

Daniël se kop het na die een kant gekantel en toe draai hy dit stadig in die rigting van die luik in die deur.

Sy oë het vuur gespoeg - die stem onbekend....


(Word vervolg)
















23 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Post: Blog2_Post

Subscribe Form

Thanks for submitting!

©2020 by Wendy Anthonie. Proudly created with Wix.com

bottom of page