(Nie vir sensitiewe lesers nie!)
Kaapstad 2016:
Eikenhout Toevlugsoord is gelee in Tokai, ‘n voorstad van Kaapstad – 30minute se ry per motor vanaf die middestad. Dit lê vasgenestel teen die hange van die Constantiaberg wat deel van die Tafelbergreeks vorm.
Sommige van Tokai se strate is met rooi bakstene geplavei. Stroompies vloei deur die area en die denneplantasie aan die westekant. Dis ‘n perfekte habitat vir voëls, paddas en insekte. Ontspanningsareas vir wandel, fietsry en stap met honde is ook uitgelê.
Net soos die soetgoed-huisie van Hansie&Grietjie sit Eikenhout diep in die bos. Die hoë dennebome wat die gebou omring verleen ‘n strak- en somberheid aan alles. Die rustigheid van die Tokaibos staan in skrille kontras met die daaglikse, geestelike storms wat bedags tussen sy mure woed.
Die laaste kamer aan die onderent van die lang, sterielwit gang is beknop. ‘n Muwwe reuk omvou alles.
Dit is die woonspasie van Daniël Olivier, die veertigjarige genie met ‘n Doktorsgraad in Wiskunde. Hy is drie jaar gelede hier opgeneem. Verlangse familie moes die moeilike besluit neem. Sy ma, Doreen Jacobs en sy grootouers was al vergete oorlede. Hul saambly huisie in Bonteheuwel was skielik leeg. Kerkvriende van sy oupa het die huis betrek.
Daar is ‘n stoel met ‘n motgevrete oortreksel, ‘n enkelbed, vuil asbakkies met Rothmans sigaretstompies in en ‘n lessenaar wat kreun onder die vrag boeke wat hoog opgestapel staan - Geometry and Topology, Calculus and Analysis, en Mathematical Physics is van die titels op die dik, hardeband boeke. Oral lê vergeelde koerante op die houtvloer rond. Die nuutse Burger- en Cape Times-koerante is nog nie oopgeblaai nie. Dit lê op die bed - opgerol soos twee worse met rekkies om. Teen die een muur is 'n swartbord wat meer tuishoort in 'n Einstein lesingsaal.
Daniël was ‘n briljante professor aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy studente asook die inwoners van Bonteheuwellaan 25 het begin fluister oor sy higiëne, sy woede-uitbarstings en sy aweregse gedragspatrone.
Met sy valerige krulhare en ligte vel was professor Daniël Olivier eens op ‘n tyd baie aantreklik. Hy was groot en fors gebou en sy oë was die kleur van ‘n stormsee. Sy geniale wiskundige brein was wyd en syd bekend en sy briljante aanbiedings het studente na sy klasse laat stroom.
Soos die jare aangestap het, het sy hare begin koek soos diè van ‘n Malteserhondjie met ‘n slegte baas en sy vel was soel van die baie rook. Sy oë was soos twee bodemlose waterputte - diep geset en donker.
En toe gebeur dit.
In ‘n propvol lesingkamer het hy daai dag in vier verskillende stemme begin praat. Wie ookal binne-in Daniël was, was kwaad - baie kwaad! Van die eerstejaartjies het gillend uitgestorm.
Die personeel moes help om hom in die ambulans te laai. Dit was hartverskeurend om hom soos ‘n klein seuntjie te hoor huil terwyl hulle gesukkel het om die dwangbaadjie aan te kry.
Dis ‘n sleepmis dag in die Tokaibos. Oor die gewoel en die stemme vanuit Daniël se kamer het die personeel al vroegdag hul wenkbroue gelig. “Shame, dis wee’een van daai dae!”
Daniël staan met ‘n sigaret in sy een hand en ‘n stok in die ander hand. Een van sy hemde is losweg om sy kop gedraai soos ‘n doek. Na elke teug aan die sigaret slaan hy blindelings en met geweld. Die houe tref die bed met woepgeluide. Hy slaan die stoel raak en ‘n stofwalm slaan op vanuit die oortreksel. Sy stem is hoog soos die van ‘n vrou.
“Vat soe, Dêniel Oliver! Vat soe! Djy’t alwee’ innie kooi gepis djou sleg dôner! Vanaand sluit ek jou wee’ toe innie besemkas! Nee, nee…. Ek gat djou toesluit innie toilet! Die toilet djou moffie…. Die toilet waa’ ‘n mens pis! Of dalk moet ek djou virre slag innie freezer druk. Daa’ is anyway fokol in nie. Die pakkie cheap vleis wat niemand wil vriet’ie trek al groen. Daai twee tjoppies sing seke’ al “Lonely, we are so lonely…”
Hy slaan weer ‘n keer teen die stoel.
“Dê vat soe! Die een is somme’ omlat die fokken tjoppies so lonely is!”
Daniêl plof uitasem en natgesweet op die bed neer. Hy begin sing die vintage liedjie, "Mister Lonely" wat sy ma meer as gereeld gesing het. Sy't op sekere dae heeldag met 'n sakdoek om haar kop geloop. Ouma Jacobs het aartappelskille onder die asynbenatte sakdoek ingedruk en gesê dit sal help met die megrain (migraine). Maar Daniël het van beter geweet. Wanneer sy ma die dag die LP op die grammafoon gesit het en die liedjie oor en oor gespeel het, het hy geweet sy verlang na iets of iemand. Hy't ook geweet: op sulke dae gaan hy geslaan word - sommer vir die sommer!
Hy ruk die hemp van sy kop af. Sy stem is opeens diè van ‘n sesjarige seuntjie.
“Eina, mammie! Eina!”
Hy vryf vervaard oor sy bene en arms waar die houe geval het. In 'n gilstem skree hy: “My naam is Daniël Olivier soos my oupa! Nie Dêniel nie! My pa het eendag self so gesê!
Ek willie wee’ innie besemkas klim’ie, mammie! Ek willie innie freezer nie, asseblieftog, mammie!”
Hy vlieg vervaard op vanuit sy fetale posisie op die bed.
Dis wèèr Doreen wat aan die woord is. Haar hoë stem raak-raak aan die rookvergeelde dak!
“Pa? Watse pa? Hy was nog nooit djou pa nie, man! Hy’t djou net gemaak en toe gooi hy ‘n lange! Wil djy wiet waa’ djy gemaak is, hmm? Well, I’ll tell you – in a toilet! Yes, ‘n fuckin toilet at Ikeys University! Ek die Cape Coloured van Bonteheuwel en hy, Johan Olivier, die ryk Vrystaat-Afrikaner van 'n skaapplaas, somewhere!"
“En toe ons klaar was en ons na buite stap het sy tjommies met hulle rosy cheeks vannie cheap bokswyn en skelm dagga, verbygestap en hard geskree...........
(Word vervolg)
Comments