Ek het opgegroei met die idee dat grênd goed die dinge is wat jy nie geldelik kon bekostig nie, plekke buite jou bereik soos die Parade in Kaapstad, ’n spoeltoilet met droomsagte toiletpapier - nie repies saggevryfde koerantpapier nie en pêrelwitstrande soos wat jy in 'n Elvis Presley-fliek gesien het.
Luuksheid was om Kondensmelk in my koffie te kry en om regte, egte botter op my brood te hê. Swart moerkoffie soos Sturka of Koffiehuis was aan die orde van die dag. Op my brood was ’n geel smeersel van wit margarien gemeng met óf ’n eiergeel óf die sap van ’n wortel.
Grendgeit was om fliek toe te gaan met jou kaartjiegeld van 12c plus ’n 5c vir ’n draairoomys en ’n tiekie vir ’n pakkie Red Rings peanuts in my sakdoek toegeknoop.
Ek het begeer om soos die rykes van die dorp heel voor in die strepies sirkustent te sit wanneer Boswell en Wilkies die dag kom kuier het. Daar was nooit geld vir die sirkus nie. Vyftigsent was soos vloek. Ons kon net na die leeus buite in hul hokke kyk. Wanneer die kosmos jou die dag goedgesind was, het jy van die gespierde akrobate in hul blink kostuums voor hul karavane gesien - selfs vir Tiekie die nar sonder sy rooi neus.
Ek wou ook my klere by Gordons Dry Cleaners op die dorp ingee en met die skoon rokke aan 'n hanger en onder 'n plastieksak, daar uitstap. Grênd was om Pick&Mix sjokolade in ’n emmertje by OK in die Kaapse middestad te gooi - al jou gunstelinge!
Maar toe gebeur Covid-19 en ek word weer intens daarvan bewus dat grêndgeit of die luukse in die regte lewe die klein dingetjes is wat ons tot nou toe misgekyk het of glad nie waardeer het die.
Dis die drukkies van familie, die kuier met vriende, en wandelings langs die see. Dis om in jou motor te klim om tot in ’n ander dorp te ry - vir die somber!
Grêndgeit deesdae is om gesond te wees, diep te kan asemhaal, en om na buite te hardloop sonder ’n masker.
Wanneer Covid die dag uitgekuier is wil ek my sommer uithaal-grênd hou met ’n straatpartytjie propvol grênd vonkelwyn en eetgoed met grênd name! En as ek dan nou vergeet om my hande vir 20sekondes op een slag te was, sal ek nie ’n angsaanval soos nou kry nie.
Nà die saamkuier sal ek weer twee maal dink oor dit wat werklik saakmaak.
Oor die drukkies, die naby mekaar wees en die soentjes sonder maskers sal ek opnuut grênd voel - baie grênder
as die Guptas, Bill Gates of die Ruperts.
Want al is geld net so belangrik soos suurstof, al kan dit vir jou die duurste ventilator koop, kan dit steeds nie geluk, liefde, vrede en gesondheid koop die.
Hoe grênd voel ek nie vandag die.
11/8/20
Comments