Mammie het altyd haar tyd hiermee geneem. Met 'n geleende pinking scissors het sy hartjies, gaatjies en rye riffeltjies uitgeknip in pa se ou Landstem of Cape Times-koerante. Die eindproduk was soos gedrukte kantmateriaal wat oplaas vanaf die drie houtrakke in die kombuis gewaterval het. Die proses is weekliks herhaal, want die roet van die kolestoof het dit beswart.
Bo-op een van die koerantkant-rakke was haar geliefde kospotte - net drie! Die drie Hartpotte is lank vòòr my geboorte as 'n stel gekoop. Ek dink mammie het haar 3 potte liewer gehad as haar bloedkinders! Sy kon hulle vir ure skuur en opvryf. Ek sien haar steeds - langsbeen op 'n goiingsak langs die hopie asreste van die kolestoof. Met 'n klam lappie gedruk in die fyn asstof het sy hulle geskuur. Wanneer die pot èn haar hande blouswart was, het sy dit afgespoel onder die buitekraan. Dit het geblink soos ons Vaselienbesmeerde voorkoppe op 'n warm dag. Haar tiekie-glimlag het haar tevredenheid opgesom.
Ek besit vandag die middelpot - haar ryspot. Dis al bykans sewentig jaar oud en lyk somtyds soos 'n sleggestopte worsderm van al die duike, knoppe en krommings. Die deksel is so skeef soos 'n skyf polony wat te lank in die son gelê het en pas lankal nie meer dig nie. Annerdag het die deksels sò styf gepas dat geen stoom kon ontsnap nie. Ek het altyd die gewoep-woep van die stoeiende mieliemeelpap teen die deksel gehoor.
Ons kon onsself in haar potte spieël. Vandag is my pot net dofblink, maar hy kook steeds die perfekte twee koppies rys per maaltyd - wit en uitgepof soos 'n skouduif.
Op piekniekdae het mammie amper die hele kombuis saamgepiekel. Ook àldrie Hartpotte, want sy't 'n volle maaltyd in die veld gekook. Wanneer die tyd aanbreek vir die huiswaartse tog het sy ons met vuur en swael gedreig as ons nie haar potte skoonmaak vòòr die inpak nie. Met 'n stuk Sunlightseep het ons afgesit na die naaste gorê en hulle skoongemaak - eers met die fyn, klam gruis en dan met seep. Teen die laaste strale van die sakkende son het sy hulle omhoog gehou, bekyk en dan tevrede in die kartonboks ingepak met iets soos:"Uhmmm... djulle beter!"
Na 'n bredie het daar altyd 'n lekkerte op die bodem van die pot vir ons gewag - die bruin lagie van uie en stukkies vleis wat ons aanbrandsels genoem het. Ons het gesmul aan die soutigheid wat ons met eetlepels losgekrap het. Dit was skelm gedoen, want vang sy jou, het mammie luidkeels en half benoud gegil:"Djulle gattie man kry nie!"
Die ironie is toe ons tieners word en kla oor kêrels het sy weer in 'n sagter stemtoon gepaai:"Djong, èlke pot kry sy deksel!"
Ten spyte van al die aanbrandsels uit haar Hartpotte het ek wel 'n man gekry wat my tot op tyd met nuwe potte verras het - mooies, blinkes en duures! Op rys-en-vleis-dae trek ek steeds vir old faithful nader.
Ek sou graag vir haar die grênd potte van Nataniël en Jamie Oliver wou koop òf een van die ongoddellik-duur Le Creuset-potte, maar sy sou hulle nie kon skuur nie. Haar vreugde het juis hierin gelê - om haar Hartpotte tot blinkheid op te poets.
Dankie, mammie vir jou hartskos in jou Hartpotte.
Ek kyk na getroude paartjies: tydgenote, vriend en vyand en stem vandag volborstig saam met my ma.
Elke pot kry sy deksel!
(Pssst! Tensy jy 'n Tupperware bak is, want hùlle deksels bly ewig soek)
Tupper bak ekke