"Wat gaan aan, Marcus? Wat is al die botteltjies en goed in jou sak? Is dit wat die soldate soek?" "Ek is bang, Marcus. Ek moet nog aanmeld vir diens by Herr Otto. Met die hele Gestapo buite in die straat sal ek dit nie na buite kan waag nie!" "Diens? Jy werk waar, Hildegardt?" Marcus skud sy kop en vryf deur sy slaapoë. Hildegardt vertel hom die hele storie - ook dat Otto Jüttner haar al wou betas het. Sy ontbloot haar arm. Marcus sien die persblou kneusplek. Hy is skielik nugter wakker. Dis asof iemand 'n ligskakelaar in sy kop aangeklap het. "Ek is sò jammer my suster! Kom sit hier langs my. Laat ek vertel wat gebeur het." "Ek's mos gisteraand laataand hier uit, reg?" Toe Marcus om 11nm by die Vesta-kroeg instap was die manne al redelik aangeklam." Een van die penkoppe het sy glas bier omhoog gehou en met 'n slepende tong geskree: "Prost!" En toe sien Marcus dit - die groen Smaragring aan die vinger van die uitbundige soldaat. "Dis my pa s'n!" Al die spuug in sy mond kon nie sy meeldroë keel op daai oomblik benat nie. Hy kon die bloed agter sy ore hoor bruis. Hy het die besope SS-lid uitgevra oor die ring. "Dis 'n baie mooi ring", het Marcus gesê. "Ja, ek het dit afgevat van so 'n dun Joodse mannetjie, net voor hy vergas is. Die omie het nogal 'n geveg opgesit. Siestog, hy en sy maer vroutjie het gedink hulle gaan stort! Toe ons haar van hom af wegruk het hy soos 'n besetene iets soos Bella of Sella agterna geskree!" Iets het in Marcus geknak. "Dis pappa en ma Elsa!" Hy het die soldaat na die toilet gevolg. Mengele het hom geleer hoe 'n mens iemand kan verlam deur net op 'n sekere plek in die nek te druk. Toe die soldaat neersyg op die grond het hy hom tot binne-in die toiletspasie gesleep. Hy kon nie die ring afkry nie. Met net een kragtige trek van sy vlymskerp swarthef dolk het die jong SS-lid se vinger op die grond gelê. Hy het die bebloede vinger met ring en al in sy sak geprop en na buite gevlug. Hy kon nie na Rosefield gaan nie, want die drank-orgie was alreeds aan die gang in die sitkamer van die winkel. Hy moes maar gebruik maak van die skuiling wat die inkswart nag hom aangebied het. " 'n Vinger, Marcus! 'n Egte mensvinger? En...en.., dis pappa se ring, dan nie? Waar's pappa.. en mamma? Beteken dit hulle is dood, Marcus?" "Ongelukkig is pappa èn ma Elsa dood, Hildegardt! Vermoor deur die sleg Nazis. En ek, Hildegardt! Ek, Marcus Schmull het meegehelp met die bose planne van uitwissing. Ek was 'n dwaas en dit oor geld en mag, maar dit eindig hier! Vandag nog!" "Ek gaan nie weer terug Auschwitz toe nie. Ons moet net laag lê totdat die Gestapo rustig begin raak oor die man sonder vinger!" Marcus het intussen die ring skoongevee en aan sy ringvinger gesteek. Hildegardt het Marcus se gesig in haar hande geneem. "Welkom terug my broer. Jy is niè Gunther Hartman nie. Jy is niè 'n Duitser nie. Jy is Marcus Schmull! Onthou wat pappa ons altyd met die Shabat geleer het: Spreuke 24:20 Vir iemand wat kwaad doen, is daar geen toekoms nie. Die lewenslig van goddeloses gaan dood." In die dae en weke wat gevolg het, het die strate rustiger geraak. Die Vesta-kroeg was nie meer 'n raserige dronknes op 'n Donderdagaand nie en selfs die Groen Huis se besoekers het begin taan. Daar was ewe skielik 'n soort onrustigheid te bespeur in die strate van Kepno. Dit was asof die SS hul waaksaamheid verloor het. Marcus en Hildegardt kon vir langer rukke buite die kelder vertoef. Desember 1944. Uit stukke van die propaganda-koerant, Das Reich wat hy uit vullisdromme opgediep het, het hy gelees dat die Geallieerde Magte besig was om Pole en Duitsland te infiltreer. Mengele kon intussen nie juis aandag gee aan Marcus se afwesigheid by die laboratorium nie. Hy is beopdrag om na die Gross-Rosen konsentrasiekamp, 280km vanaf Auschwitz te gaan. Almal het gedink Gunter Hartman, die skoothondjie van Josef Mengele is saam met hom weg. Hy moes in alleryl sy sakke pak. Op 17/1/45 glip Mengele stil-stil weg vanaf Auschwitz - slegs 10dae voordat die Sowjetmagte Auschwitz binnegeval het. 'n Week na Mengele se verplasing het Marcus aan Herr Otto se deur geklop. Hildegardt wis van niks. "Guten tag! Wie kann lhnen helfen?(hoe kan ek help). Otto Jüttner het dadelik vir Gunther Hartman, die Doodsengel se blondekop handlanger herken en binnegenooi. Hulle het aan die gesels geraak oor Mengele se verplasing na die Gross-Rosen konsentrasiekamp. Otto het bier geskink. Marcus het sy aandag afgelei en die Sianied-ampule in Otto se bierglas leeggemaak. "Prost!" het Otto gegil en die eerste lang teug geneem. Marcus het sy hand gelig en die bierskuim van sy mond afgegee. Vir 'n breukdeel van 'n sekonde het hul oë ontmoet. Otto het die ring herken. "Die ring! Dis jy wat die vinger afgekap het! Dis jy...! Wie ìs jy? Schwein!" Soos dit 'n opgeleide, Schutzstaffel Offisier betaam het, het Otto Jüttner sy pistool blitsvinnig uitgepluk en die sneller getrek. (Word vervolg)
![](https://static.wixstatic.com/media/a09b30c308d940038342285598926623.jpg/v1/fill/w_980,h_621,al_c,q_85,usm_0.66_1.00_0.01,enc_auto/a09b30c308d940038342285598926623.jpg)
Comments