Marcus se dagtaak was weer uitdagend en emosioneel. Die veetrokke boordensvol Jode het van vroegdag af by Auschwitz aangekom.
Hy het Josef gehelp om die keuringswerk te doen: bejaardes, sieklikes en gestremdes is summier na die krematoriums gepos met die liegstorie dat hulle eers moet stort!
Sodra die groot "waskamers" gevul was, het Mengele die Zyklon B-kapsules in die luggate van die dak gedruk. Die gifstof wat eintlik 'n insekdoder was het 'n Sianiedbasis gehad. Die dood het genadiglik binne sekondes van inaseming gekom en kon hulle teruggaan laboratorium toe sodra die gegil van die sterwendes uitgedoof was.
Marcus het gesweef op 'n wolk van uitputting en magsbeheptheid. Hy kon homself nie help nie. Hy kon nie meer tussen lig en donker onderskei nie.
"Tweelinge het 'n spesiale band. Hulle ervaar emosies op dieselfde tyd en met dieselfde intensiteit." Josef verduidelik aan Marcus wat hulle gaan doen.
"Hou jy daai enetjie dop terwyl ek chloroform in dié een se hart inspuit en dan kyk ons of albei gelyk sterf!"
"Gunter! Gunther Hartman, is jy met my?" Marcus skrik toe Mengele aan hom stoot. "Verwyder net die kadawers dan sal ek jou verskoon. Die kleintjies het weer ons ore vandag afgeskree, nê? Ek sien jy's uitgeput. Ek's ook lekker moeg!"
Vir die eerste keer in baie weke het Marcus na sy suster in Kepno gegaan. Hildegardt het geweet dis Marcus wat donkeraand aan die luik geklop het. Hul geheime kode was drie sagte kloppe.
Marcus was afgerem met 'n growwe stoppelbaard en 'n deurmekaar blonde kuif. In die geel vlam van die kerslig het hy spookagtig vertoon. Sy het hom begin peper met allerhande vrae.
Marcus se reaksie het haar onkant betrap. Hy het haar eenkant toe gestamp. Die reuk van alkohol aan Marcus het haar boonop geskok. Dit het die beknopte kelderspasie gevul.
"Halt die Klappe!" (hou jou bek) het hy geskree. "Sie wissen nichts!" (jy weet niks).
"Ek gaan nou Vesta toe! Dê hier is geld!" Marcus is onvas op sy voete. Hildegardt smeek dat hy moet wegbly van die kroeg af, maar verniet. Vanuit die stikdonker winkel loer Hildegardt deur die gordyne na buite.
In die lamplig van die keisteenstraat sien Hildegartd die klomp SS-lede en die los meisies van Kepno. Sy sien hoe Marcus uitglip en by hulle aansluit!
Hildegardt skrik toe een van die soldate omdraai en reguit in haar rigting kyk (of sò het sy gedink). Sy't genoeg Duitse woorde geken om te weet waaroor hulle gespot het.
"Wie kom saam met my vanaand na die groen sofa, huh? Ons gaan voort met ons partytjie by die Groen Huis!"
Marcus was nie saam met die spulse klomp wat dwarsdeur die nag in die sitkamergedeelte van Rosefield Watches kafoefel het nie.
Sy het heelnag gebid dat die mat òf die tafel nie sal skuif en die luik ontbloot nie!
Teen dagbreek het sy die 3 sagte kloppe gehoor. Dit was Marcus. Hy het 'n snaakse kyk in sy oë gehad, maar alvoor hulle kon gesels het hy op die matras neergeplons en aan die slaap geraak.
Iets het Hildegardt se neus begin pla. Sy kon nie die reuk identifiseer nie. Dit was beslis nie die laatnag kuiergaste se goedkoop parfuum, braaksel en Vodka-reuke nie.
Die reuk het uit Marcus se leer skouersak gekom wat langs hom op die matras gelê het.
Versigtig-versigtig het sy die sak oopgemaak en na binne geloer. "Dis die ysterreuk van bloed!"
Hildegardt trek haar asem skerp in. Die swarthef dolk was oortrek met bloed, maar daar was nòg iets. "As ek net lekker kan sien!" fluisterpraat sy met haarself.
Maar toe skrik Marcus wakker en gryp die sak by haar.
En asof uit die niet, bars die voordeur van Rosefield Watches oop. Die harde stemme is vol vloek en kwaad! Hildegardt hoor hoe die soldate die leë drankbottels rondskop. "Wer immer da drin iet, zeigen Sie sich, sofort! (Wie ookal hierbinne is, kom uit!)" Die voordeur het na 'n paar minute weer toegeklap.
Die straat het ook 'n lewe van sy eie begin kry. Jeeps het op en af verby soldate gery wat swaar gewapen elke vierkant van St. John's gefynkam het. Dit was duidelik dat hulle na iets of iemand soek!
In die muwwe kelder het broer en suster verskrik na mekaar gekyk.
"Ek dink dit het iets te doen met dit wat in my sak is, Hildegardt!"
Marcus het sy leersak oopgemaak.....
(Word vervolg)
Dankie 💖