top of page
Search

DONKERPAD: EPISODE 6: 26/8/20

Writer's picture: WendyWendy

"Gunther, jy kan hierdie een inspuit. druk sommer die naald in die slagaar teen sy nek."

Mengele oorhandig die spuitnaald aan Marcus. Hy werk al lank aan die konkoksie wat hy Polygonal noem. Die vloeistof is 'n mengsel van beet en die pektien van appelpitte. Dit veroorsaak dat bloed stol.

Die rede hieragter is om te kyk of Duitse soldate nie minder sal bloei tydens operasies op die slagveld nie. Met Mengele se eerste probeerslag het Marcus buite die laboratorium gaan opgooi. Om te toets of die proefkonyn se bloed wel gestol het, het hy die man se been by die knie geamputeer - sonder narkose.

Die bloed was weliswaar een diksel. Marcus het aan die bewe gegaaan soos die geskokte man op die blink metaal tafel.

Een van die paartjies wat vroeër saam met hul gesin in die Warskou Ghetto gebly het, het een aand tuisgekom met 'n skottel gestolde perdebloed. Hulle het sout en peper daaroor gestrooi en op hul brood gesmeer! Ander families het bloed van geslagte beeste opgevang en dit met uie en 'n bietjie vet gemeng. Marcus ril as hy daaraan dink!

Die skouerkloppe en die persoonlike aandag van die befaamde en briljante Josef Mengele het Marcus se goedvoel-meter laat styg soos kwik op 'n warm dag. Hy het gedy op die applous wanneer hy sonder skroom en met presisie afgesny, deurgesny of oopgesny het. Wanneer hy die vernielde kadawers op 'n hoop buite die gebou gegooi het, het hy magtig gevoel - soos 'n tweede Mengele!

Die geween van die peuters en die tweelingbabas met wie hy gewerk het, het so nou en dan aan sy hart gerem, maar dan het die bedwelmende vlaag van roem hom maar weer oorspoel. Hy was nie meer Marcus Schmull, die bedeesde jong seun van Ashur en Elsa nie. Hy was 'n sjirurg in wording àl het dit die lewens van mense gekos.

Kollegas was jaloers en het hom die wrede handlanger van die Todesengel (Doodsengel) genoem. Hy't al sò ver gestap op die figuurlike donker pad dat hy geen lig meer kon sien nie. Hy was soos een van die soldate by Auschwitz - afgestomp, sonder emosie en blind vir die pyn en lyding wat hy veroorsaak het. Sy siel was pikswart. Hy het net vlugtig aan sy suster, Hildegardt gedink wanneer Mengele van die soldate geroep het om jong vroue te kom verkrag - als in die naam van sy siek eksperimente.

Na die 14de dag en die 2de Sondag sonder Marcus het Hildegardt begin aanvaar dat sy haar eie heil sal moet uitwerk - dat sy haar broer verloor het. Marcus het net nie meer oor naweke kom inloer nie. Behalwe vir 'n stuk harde rogbrood was daar niks oor om te eet nie.

Haar ma, Elsa was 'n wonderwerker in die ghetto. Die rantsoene was skandalig miin, maar alles het meer òf beter geraak in haar hande. As Jode kon haar ouers niks koop nie. Ma Elsa het aartappelskille gekook, gebraai of saans as sop voorgesit. Min het hulle gewis dat een van die Nazis se planne met met die Jode, Death by Starvation was.

As gesin was die rantsoene 'n skamele 250gram suiker en 250gram brood per maand. Mense het selfmoord gepleeg van hongerte en die Duitsers het dit afgelag as Hunger Madness. Elsa het baie maer geword, maar haar gesin was gevoed, veilig en skoon. Die bietjie geld wat Ashur oorgehad het van sy dae as horlosiemaker het ietwat gehelp. Hy kon smokkelgoedere by nie-Jode aan die anderkant van die skeidingsdraad koop. Goedere soos groente, vrugte en seep. Daar was regte vleis - nie die hompe perdevleis wat in omloop was nie.


Omdat Marcus jonk en rats was, is hy gebruik om snags in die donkerte na die draad te sluip. Diegene wat gevang is, is summier geskiet. Diegene sonder geld het gesterf. Niemand het geweet waarom Elsa eendag, peroksied op een van die blaadjies geskryf het nie. Hildegardt onthou net hoe haar kopvel gebrand het en hoe snaaks sy vir haarself met blonde hare gelyk het.


Vanoggend besef Hildegardt met 'n skok en waardering wat in haar ma se kop gedraai het daardie dag.


Die winkel was soos altyd stil toe sy die luik van die kelder oopskuif het. Die winterson het deur die gordyne in Rosefield Watches se werkskamer gebeur, maar in haar jong hart was dit nagdonker. Sy was honger. Die geluid van voertuie en mansstemme laat haar deur 'n skrefie in die gordyn na buite loer. Die gewoel kom vanaf die Vesta-kroeg op die hoek. Sy besef opeens dat dit Donderdag moet wees. Die gedagte aan kos laat die naarheid soos gal in haar keel opstuif.

Hildegardt maak haar blonde vlegsels los en skud haar kop totdat die hare 'n woeste bos blonde krulle is. Sy trek haar nat vinger oor 'n stukkie beetskil en smeer die rooisel aan haar lippe en wange. Genadiglik is daar 'n paar vars blare aan die suurlemoenboom in die klein agtertuintjie van Rosefield Watches. Sy druk 'n paar in haar mond en begin kou. Die res kneus sy en druk dit in haar verslete rok en jas se sakke - enigiets om beter te ruik as die karboliese seep wat Marcus een aand uit 'n toilet gegaps het.

In haar swart, geskenkjas, haar ma se rooi skoene en met haar woeste blonde krulle lyk Hildegardt mèèr 20jr as 15jr oud. Nou net wag vir die son om te taan alvoor sy dit na buite waag.

Die kroeg is soos altyd 'n smorgasbord van 'n oormaat kos, rook, drank, testosteroon en die uitlokkende gelag van spulse blondekop vroue. Hildegardt stap die kroeg binne. Sy haal swaar asem, maar sy hou haar wulps en groet kokketerig: "Guten Abend!"


Lank voor hul uitsetting en die lewe in die ghetto het Hildegardt en haar ma graag na romantiese flieks gekyk. Sy onthou veral die fliek, Zimna Wojna. Haar ma het altyd haar oë speels toegedruk wanneer die heldinne tè uitlokkend was. Hildegardt weet presies hoe om die aandag op haarself te vestig.

Sy wil huil oor die kosse wat op die swaar houttafels uitgepak staan. Jong SS-soldate loer na haar kant toe. Dis warm in die rokerige kroeg, maar sy klou haar jas styf vas om haar stukkende rok weg te steek. Haar skoene blink. Haar naam is Klara Goering!

Een van die ouer soldate nooi haar na sy tafel. Hy is stinkdronk en soen aanmekaar in haar nek. Hildegardt kekkellag en speel saam. Sy laat val elke keer 'n stuk brood, vrugte of van die kaas op die grond. Dan buk sy af en prop dit in haar lapsak. Toe sy tevrede is, glip sy toilet toe en vandaar by die voordeur uit. Onder die dekmantel van die swartheid van die nag, hardloop sy na Rosefield.


Sy kon laatnag hoor hoe die soldate die jong, vreemde Fraulein met die rooi skoene bespreek. 'n Aweregse doeselslaap het haar oorval terwyl sy na die steungeluide van die soldate se lyflikheid met hul los meisies op pa, Ashur se groen sofa geluister het.

Hildegardt het dit wèèr een aand tot by die kroeg gewaag. Die oorgewig SS-lid het vir haar werk as bediende aangebied. Die salaris was ongelooflik goed. Die daaropvolgende weke was vir die jonge Hildegardt dyselingwekkend. Enersyds oor die bietjie hoop van kos wat weer op haar horison verskyn het en andersyds oor die trauma wat sy moes deurloop om nie uitgevind te word nie. Sy kon klere en regte kos koop! Na maande en maande se reuk van haar oerself, kon sy weer bad en haar lyf met regte seep invryf al was dit skelm gedoen!


Maar Stabschef, (Chief of Staff) Otto Jüttner wou meer van Hildegardt hê. Toe Otto weer een dag vatterig raak en haar schatzi en liebschen begin noem het sy gewag tot hy slaap en uitgeglip.

En toe kom klop Marcus een donkeraand aan die luik.

(Word vervolg)










17 views1 comment

Recent Posts

See All

1 Comment


Santie Landman
Santie Landman
Aug 27, 2020

Dankie ek geniet jou stories baie.

Like
Post: Blog2_Post

Subscribe Form

Thanks for submitting!

©2020 by Wendy Anthonie. Proudly created with Wix.com

bottom of page